Ek was vir twee weke saam die Susy Utzinger Stigting vir Dierebeskerming in Galati, Roemenië by ‘n diereasiel met omtrent 1’000 honde en ongeveer 150 katte. Hier is so paar foto’s om ‘n indruk van die werk te kry. Week een was gemik om al die honde teen wurms, vlooie en bosluise te behandel (die katte word deur die katvrou gedoen!). Dit beteken vir elke hond ‘n paar tablette gee teen wurms en nog iets op sy of haar rug drup teen vlooie ens. Soms werk dit uitstekend, maar soms is die honde so bang of aggressief dat mens nie naby hulle kan kom nie. Ons het ‘n sisteem om hulle te merk afhanklik van wat ons kon doen en dan is die plan dat die werkers wat andersins daar vrywillig werk dit kan doen wat ons nie kon nie, bv. vir ‘n baie angstige hond sy tablette gee, want hulle ken die honde beter (soms het hulle egter ook maar net die honde styf vasgehou en dit afgedwing, waar soms gewerk het, en soms nie).
Ons het natuurlik ook baie siek en beseerde diere gesien, maar die mediese sorg hier is baie basies, so ons moes ons standaarde baie verlaag om nie gek te word nie. Alhoewel, vir ‘n ortodoks christelike land is die veearts en verpleegster baie oop, en sit ook diere uit vir wie daar geen hoop is nie. Ons het ook ‘n dag of wat in die stad se diereasiel gewerk, en daar was die toestande rowwer as waarmee ons te doen het. Die hokke daar loop heeltemal oor met honde en daar is heelwat gevegte onder hulle, wat beteken daar is meer beserings.
Wat wel lekker rof is in die asiel, is die manier hoe die diere se kos voorberei word. Dis slagafval, maar meestal been, vet en vel. Meeste diere hier is lekker vet, so hulle hou duidelik daarvan ;). Sien foto’s hier onder:
Daar is ‘n ou deel in die asiel, waar omtrent 300 honde is, en die ou deel met nog 700 honde. Die nuwe deel is natuurlik maklik om in te werk; mens kan die oppervlaktes beter skoon kry en daar is min gevaar vir beserings. In die ou deel is die hokke aanmekaar geflans en daar is plasse water orals wat soms ‘n giftige groen kleur het. Die nuwe deel het 300’000 Euro gekos, en op die oomblik is daar nog nie geld en politiese oortuiging vir aanbou nie.
Die hoogtepunt van my dag was toe die hond op my spring vir ‘n drukkie. Gewoonlik as die hond bang is moet mens baie versigtig te werk gaan; van die kant benader, nie vir die hond kyk nie, ens. Maar die een was so vrolik en wou net ‘n drukkie het. Dit was ‘n baie mooi oomblik. Ek hoop sy kry gou ‘n huis!
Niks is meer ‘n geskenk vir my as ‘n dier wat sy liefde wys nie. Ek is so bly daar is mense wat na diere kyk wat nie huise het nie…
LikeLike
Ek moet toegee, dis my passie. Nie die skootpoedel wie se toonnaels ek moet sny nie (alhoewel dit ook nodig is, en mens daarmee brood op die tafel sit), maar die diere wat andersins nie ‘n stem het nie. Daai hond sou in my tas geklim het!
LikeLiked by 1 person
Ek is nie verbaas nie, die hond is ‘adorable’
LikeLiked by 1 person