Het jou kat slegte toiletmaniere?

on

Een van die algemeenste klagtes van kateienaars is dat die kat haar besigheid buite die sandbak doen. Omtrent ‘n kwart van alle katte gaan iewers in hulle lewe ‘n aversie teen die sandbak hê. Die aversie kan slegs piepie, ontlasting of albei insluit, en kan selde of heeltyd voorkom. Dit kan wees dat die kat die boks vir urien of ontlasting gebruik, maar die beide nie, of vir albei maar dan eendag ewe skielik glad nie. Die skade, reuk en spanning van sulke gedrag is baie ernstig. Baie katte word by die DBV afgegee, weggegee of uitgesit weens die probleem. Getalle oor sulke gedragsprobleme is moeilik om te vind, omdat mense wat hulle katte weggee sal soms swyg oor so iets, of die dier word uitgegooi en dan as rondloper opgetel.

Daar is ‘n aantal mediese, omgewings- en gedragsfaktore wat bydra tot sandbak aversie. Hier volg ‘n paar faktore wat ‘n kat gelukkig sal hou met ‘n sandbak in verskillende stadiums van sy of haar lewe.

Maak dit maklik vir die kat om in die bak te klim.

Dit klink dalk voor die hand liggend, maar baie kommersiële sandbakke is nie maklik vir katte om te gebruik nie. Byvoorbeeld, ‘n jong katjie kan moeilik in ‘n sandbak klim as dit 15 cm of hoër is. Dan sal dit makliker wees vir die katjie om eerder op die vloer of op klere haar ding te doen, wat haar leer om dit te verkies op ‘n jong ouderdom.

Ouer katte het soms rumatiek. Dit kan voorkom in die elmboë en ander gewrigte, maar ook in die rug en heupe. Die pyn en ontsteking wat daarmee saam gaan, maak dit moeilik vir ‘n ou kat om in die sandbak te klim. Weereens kan ‘n sandbak wat te hoog is, die kat noop om haar nood iewers anders te verlig. Rumatiek in die rugwerwels kan ook dermbeweging sleg beïnvloed, wat verstopping erger kan maak. As dit buite die bak gebeur, en die kat kan nie gou genoeg in die bak klim nie, kan dit tot ‘n ongelukkie lei. Vir ons ou Grietjiekat, wat 21 geword het, met nierprobleme, alzheimers, blind en doof, het ek in die laaste jaar van haar lewe haar sandbak onder my studeerkamertafel gesit, want sy kon dit maklik vind en dit was naby haar bed, anders het sy glipies gehad.

Oor die algemeen verkies katte ‘n sandbak met ‘n rand nie hoër as 8 cm nie. Kyk uit vir sulkes by ‘n troeteldierwinkel of maak self een.

Dit help ook as die bak nie moeilik is om te vind nie. Dit help nie dis agter die geiser in die stoorkamer nie. Sit dit op ‘n maklik bereikbare plek waar die kat nie gepla sal word deur mense wat verby loop nie, of ‘n hond wat kom snuffel of ‘n kat wat die pad blokkeer nie.

Hou die bak skoon

Katte hou van ‘n skoon toilet, net soos mense! Dis hoekom ‘n kat gou in die bak sal spring net na jy dit skoongemaak het en vars sand ingegooi het. ‘n Sandbak moet ten minste een maal per dag skoongemaak word, twee keer is beter as jy die tyd het. Vir ‘n kat met probleme sê ‘n vuil bak dat sy liewer iewers anders moet gaan piepie.

En dis ook waar die probleem inkom by katte wat sandbakke moet deel. Die aanbeveling is ‘n bak per kat plus een. Nie alle huise het genoeg plek vir meerdere bakke nie, daarom is dit so belangrik om dit skoon te hou. Dis ook ‘n goeie rede om die bak eerder in die deel van die huis te sit waar mens ook lewe. Dan word jy genoop om dit skoon te hou weens die reuk, en die kat is definitief gelukkiger!

Tipe sand en hoeveelheid

Katte is nie net vol fiemies oor waar hulle hulle besigheid doen nie, maar ook waarop hulle dit doen. Daar is baie verskillende soorte sand op die mark, maar soos met baie dinge is dit gemik op waarvan mense hou, en nie katte nie. Gegeurde sand of die in saamgepersde vorm is aanstootlik vir meeste katte. Kyk uit vir sand met geaktiveerde houtskool in in plaas van Febreeze of so iets. Ek het ook op ‘n stadium gedink my kat sal dalk van gehersirkuleerde papier”sand” hou (beter vir die omgewing), maar sy het toe op die badkamermat haar misnoeë gewys!

Verder is die hoeveelheid sand ook belangrik – nie te veel dat dit heeltyd afgly as die kat krap nie, maar ook nie te min dat die kat niks daarmee kan bedek nie.

Katte steek pyn goed weg

Rumatiek, verstopping, en pyn in die blaas word nie altyd gewys soos wat mens dink nie. Katte met rugpyn sal dit vermy op trappe te klim of in ‘n te hoë bak te klim. So, as jy probleme het met jou kat se toiletgewoontes, laat jou kat ondersoek deur ‘n veearts. Soms moet mens bloed trek, ‘n urienmonster neem of selfs ‘n X-straal om agter die kap van die byl te kom. Vertel jou veearts enige iets wat jy opgemerk het om te help om die regte behandeling vir jou kat te kry. Soms begin mens met medisyne, maar stop te vroeg, en dan begin die probleem weer van voor af, so hou by die plan. Omtrent helfte van die tyd is daar ‘n mediese probleem wat die sandbak aversie veroorsaak, bv. rumatiek, nierprobleme of ander gesondheidsprobleme. Hulle wys dalk nie pyn nie, maar sal vermy om te veel te beweeg en die sandbak te gaan soek as dit moeilik bereikbaar is.

Soms is dit ‘n kombinasie van ‘n mediese probleem en ‘n gedragsprobleem. Die gedragsprobleem sal egter nie verdwyn as die mediese probleem nie aangespreek word nie. Eers wanneer die dier fisies gesond is, kan gekyk word na watse omgewingsfaktore die kat steur, bv. ‘n nuwe kat of hond, ‘n nuwe baba, nuwe meubels, nuwe sand ensovoorts. Raadpleeg asseblief jou veearts as jou kat toiletprobleme het. Dit spaar baie kwaadheid en trane en keer dat katte onnodig by die DBV beland.

Advertisements

5 Comments Add yours

  1. Dis nou uitstekende raad,Karen!Ek het nog nooit katte besit nie,maar vind dit interessant om te lees van katgewoontes.Ek sien dat my honde ook fiemies het as dit by toiletgewoontes kom,veral no.2.Hulle wil dit iewers privaat doen…tussen plante in my tuin.Die reuns lig natuurlik been net waar hulle wil..gelukkig nie in die huis nie!Die tefie wil op ‘n sagte plek,soos gras of in ‘n bedding piepie.Die vervlakste reuns irriteer haar vreeslik,want dit wil altyd aan haar snuif as sy gaan sit!😜😄

    Like

    1. karen sê:

      Dis nou interessant. Ek het lanklaas ‘n hond in die huis gehad, nie gedink hulle kan so vol fiemies wees nie! Piepie ruik is seker vir honde soos ons wat koerant lees, né?

      Liked by 1 person

      1. Lol…ek word net vies vir die reuns,want hulle pie soms op mekaar se koppe,van haastigheid om eerste ‘n bos te merk😬😝😄

        Liked by 1 person

      2. karen sê:

        Hahahahahahahahaha, dis vrek snaaks! Aapkasse :):)

        Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s