Sterilisasie – die voordele en nadele

As mens sterk betrokke is by dierebeskerming, soos ek, is daar eintlik net een mening oor die sterilisasie van honde en katte, en dit is dat dit essensieel is. Stampvol diereasiele die wêreld oor bewys dat daar te veel ongewensde troeteldiere is, en te min mense wat kan/wil na hulle omsien. Party asiele sit diere na ‘n sekere tyd uit omdat daar eenvoudig nie plek is vir hulle nie. In ander lande word hulle op straat vergiftig, of versamel en vergas. Die alternatief, wat definitief nie goedkoper en makliker is nie, is om die diere te steriliseer. Baie keer kan ons dit doen voor hulle swanger (gebruik bewus nie die woord dragtig nie) geword het, of tussen swangerskappe, maar baie keer moet ons aborsies uitvoer. Hoeveel ongewenste swangerskappe het ons nie al verhoed nie? Sterilisasie is die enigste manier vir die langtermyn beheer van dierepopulasies. As die diere uit ‘n gebied verwyder word, kom daar net ander om die leemte te vul.

Daar is uitsonderings van diere wat ons dink nie voor die voet gesteriliseer hoef nie te word nie. Dit geld vir telers van terapiehonde (vir blindes, mense met outisme of Asperger’s ens.), reddingshonde en ERNSTIGE telers van gesonde, normale troeteldiere. Laasgenoemde sê ek amper met ‘n swaar hart. Alhoewel ek nie troeteldiere kan wegdink uit ons samelewing nie, is die gemors met ongewenste diere al so groot, dat daar regtig nie nodig is om nog diere te teel nie.

Boonop is dit nie so swart-wit as mens nie aspek van oorbevolking buite rekening laat nie. Daar is voordele EN nadele aan sterilisasie, waarvan ek die belangrikstes hier kort saamvat:

Voordele:

  • Geen infeksie, kanker of sist formasie van eierstokke en baarmoeder nie. Pyometra is ‘n noodgeval, en kan ‘n hond se dood beteken as dit nie onmiddellik geopereer word nie.
  • Minder borskanker – bei honde ‘n afname van tot 99.5% as dit voor die eerste hitte gedoen word. Sterilisasie na die tweede hitte of na ongeveer 2.5 jare het minder van ‘n invloed. Dieselfde geld vir katte.
  • Minder gevalle van prostatitis (infeksie van die prostaatkliere) en verwante siektes by manlike diere
  • Baie gedragsprobleme word so uitgeskakel, soos aggressie en rondlopery. Ongewensde gedrag rondom die hitte-periode word ook so vermy. Baie katte wat hulle merk op ongewensde plekke los, hou daarmee op, maar die oorsaak kan ook iets in die omgewing wees, wat kastrasie nie kan oplos nie.
  • Diere lewe langer
  • Minder ongewensde diere

Nadele

  • Verhoogde kans (30%) vir ‘n lekkende blaas by honde wat meer as 20 kg weeg, as die sterilisasie te vroeg gedoen word. Daar is honde wat meer geneig is daartoe soos Bokser, Doberman, Bobtail, reuse Schnauzer en Rottweiler. Die toestand kan egter met medisyne behandel word.
  • Gewigstoename. Alhoewel dit ‘n probleem kan wees, kan dit beheer word deur kos en aktiwiteit aan te pas. Deur gekontroleerde maaltye deur die dag te gee (i.p.v. kos heeltyd beskikbaar maak), en te gaan stap en/of speel met jou troeteldiere, kan oorgewig beperk word.
  • Verandering die kwaliteit van die pels. Dit gebeur baie selde en eerder by Spaniël honderasse.
  • Daar is studies wat wys dat Labradors en Golden Retrievers ‘n verhoodge kans het vir heup- en knieprobleme na kastrasie. Die kans is normaalweg omtrent 5% vir sulke probleme sonder kastrasie, en verhoog dan daarna, veral as die diere te vroeg gesteriliseer word. Ook sekere kankers neem by wyfiehonde van die rasse toe na kastrasie (maar ander kankers neem weer af met kastrasie!). Dit blyk of die rasse vatbaar is vir kanker met die verwydering van eierstokke en die gepaardgaande hormone (Hart et al.,

    PLoS ONE 9(7): e102241. doi:10.1371/journal.pone.0102241)

     

So, alhoewel die situasie nie duidelik swart-wit is nie, is die aanbeveling steeds dat elke hond en kat wat nie hoef te teel nie, reggemaak behoort te word. Die verskonings dat mens se dier eers moet kleintjies kry om haar persoonlikheid te ontwikkel of die wonder van geboorte vir kinders te wys, is verkeerd en dra by tot die gemors met ongewensde diere wat ons tans het.

Gaan kyk gerus ook na die webwerf van Be Wise, Sterilise: https://www.sterilise.co.za/ wat hulle beywer daarvoor om soveel as moontlik honde en katte te steriliseer. Dankie Hester van Dis Ekke vir die informasie.

 

15 Comments Add yours

  1. Ek stem saam Karen, dankie ook vir die bespreking van moontlike nadele van sterilisasie. Ek het hierdie interessante statistiek op http://www.sterlise.co.za, die webtuiste van be wise, sterilise: in Suid-Afrika word naasteby 1 miljoen honde en katte per jaar onderwerp aan genadedood, doodeenvoudig omdat daar nie genoeg huise is vir hulle nie en / of omdat hulle verwaarloos of mishandel word. Nog meer: ‘n ongesteriliseerde troeteldier en hulle nageslag kan vermeerder tot 60,000 in net ses jaar. Dis skrikwekkend. Hierdie organisasie beywer hulle vir ‘n beter lewe vir gesonde diere met goeie huise en ek ondersteun hulle graag. Bloggers kan gerus hulle webtuiste besoek.

    Liked by 1 person

    1. karen sê:

      Ja, dis vreeslik. Ek wens meer mense dink soos ons, dit sal baie diere groot lyding spaar. Ek sal die skakel in die blog sit.

      Liked by 2 people

      1. Dankie Karen 🙂

        Like

  2. seegogga sê:

    Mannetjieskatte sukkel soms met blaas en/of niere na sterilisasie? Dit het met my vriendin se kat gebeur en in mindere mate met my Sushikat ook. Gesond voor die op, gedurig sieklik daarna. Kan jy dalk se wat fout gegaan het?

    Liked by 1 person

    1. karen sê:

      Dis waar, dit lyk of gekastreerde mannetjieskatte het ‘n hoër risiko om blaasprobleme te kry. Ek sal daaroor skryf ook, maar die kort antwoord is drieledig:
      1. Meeste mannetjieskatte word gekastreer, dus ‘n groter populasie
      2. Die katte word gekastreer op ‘n jong ouderdom voor sulke probleme algemeen is (dus lyk dit of dit nie ongekastreerde katte raak nie)
      3. Daar is heelwat snellers vir die siekte, sommige kan geïdentifiseer word, maar soms weet mens nie hoekom dit gebeur nie, en word dit idiopaties genoem (kom van die Grieks wat beteken die oorsaak is nie bekend nie).

      Liked by 1 person

  3. Net Ek sê:

    Ek is ook ‘n groot voorstaander van sterilisasie (wens soms dit kan met mense ook gedoen word).

    Nie net gaan dit vir my oor die ongewensde diere nie, maar ook oor myself. Ek sal my doodhuil as ek babas moet weggee, want ek sal nooit weet of die mense na hulle kyk nie. En ek is jammer, maar my honde en katte het BAIE persoonlikheid, al het hulle geen babas al gehad nie!

    Liked by 2 people

    1. karen sê:

      Hehehe, o ja, heelwat mense behoort eerder gesteriliseer word!

      Hoekom is dit vir ons so vanselfsprekend dat diere familie is en goed na gekyk moet word, en ander mense dryf handel met hulle soos met ‘n sak meel of gooi hulle sommer net weg? Dis so selfsugtig. Dankie vir jou, dierevriend 🙂

      Liked by 2 people

      1. Net Ek sê:

        Ja ek verstaan dit ook nie Karen.

        Maar as mens kyk, mense het geen liefde, respek, empatie of simpatie met ander MENSE nie, wat gaan hulle dan vir diere voel?

        Dis so hartseer om te lees dat party plekke die diere op straat vergifitg of vang en vergas. Hoe doen mense dit? Dis darem vreeslik. Dankie vir al die goeie werk wat julle doen, julle gaan beslis eendag ekstra vlerkies kry. For free.

        Liked by 2 people

  4. As meer mense aangemoedig word om liewer by hul naaste DBV ‘n diertjie aan te neem,kan dit ook baie help.My dogter het die twee lelikste straatbrakke daar gekry.Hulle het wonderlike persoonlikhede en die een gaan nou begin met opleiding by TopDog om ‘n terapiehond te wees.Niemand weet wat hy is nie,maar hy het ‘n pragtige geaardheid.
    Ek stem vir sterilisasie.

    Liked by 1 person

    1. karen sê:

      Ja, ek stem! Dis wonderlik van jou dogter se brakkies. Kort meer mense soos julle xx

      Liked by 2 people

      1. Ek dink ek moet ‘n blog oor hulle doen en foto’s plaas!

        Liked by 1 person

      2. karen sê:

        Oe, ja, dit sal lekker wees om te lees 🙂

        Liked by 1 person

  5. Landie sê:

    Ek wil net iets vra….

    Ek het 2 teef honde en hul al2 is reg gemaak op.6maande.

    Nou amper n jaar verby bly hul al2 baklei. Di jonger ene begin altyd eerste te knor vir die ander een.

    Nou.weet ek nie is dit omdat hul te vroeg reg gemaak is nie. Moes hul eers kleintjies gekry het en dan reg gemaak het of is dit mar net plein jaloersgiet teenoormekaar? Ek is eintlik raadop

    Liked by 1 person

    1. karen sê:

      Hallo Landie,
      gelukkig kan ek vir jou sê dat die sterilisasie gehelp het, dat hulle nie nog meer baklei nie! Die hormone met op hitte wees en babas kry sou dinge net erger gemaak het. Dis ongelukkig ‘n algemene probleem, dat twee wyfies in ‘n huishouding soms baklei. Dit gaan baie werk vat om dit beter te maak, en ‘n eerste stap is om die omgewing vir elkeen positief te maak. Ek is nie ‘n gedragsspesialis nie, en as jy kans sien, maak kontak met so iemand. Iemand wat die honde kan sien en op die plek kan help. In die tussentyd kan jy probeer om hulle individueel aandag te gee, die dominante hond natuurlik eerste. Hulle kort positiewe dissipline, van die persoon van wie hulle waarskynlik albei aandag wil hê. Byvoorbeeld, as hulle soet bymekaar lê, of nie grom as hulle gaan stap nie, of watookal, dat hulle ‘n beloning kry. Maar dat as hulle baklei, dat hulle aandag afgetrek word met iets, maar nie raas of slaan nie. Dit maak hulle net bang en aggressief. Maar soos ek sê, dis ‘n komplekse tema, as jy iemand kan gaan sien om te help sal dit die gouste resultate lewer. Sterkte!

      Liked by 1 person

  6. Stephanus sê:

    Dankie!

    Like

Lewer kommentaar