Blaasprobleme by katte

Die mees algemene mediese term vir blaasprobleme by katte is Feline Lower Urinary Tract Disease (FLUTD). Dis ‘n versamelnaam vir siektes van die blaas en/of uretra – die nou pypie wat urien van die blaas tot buite die liggaam vervoer. Dit sluit in blaasontsteking, en die niere is gewoonlik nie betrokke nie.

FLUTD kom voor by katte van enige ouderdom, maar is meer algemeen by middeljare katte, en oorgewig katte. Veral as hulle min beweeg, ‘n binnenshuise kat-toilet gebruik, nie buite toe kan gaan nie, en droë kos eet. FLUTD kom voor 50-50 by mannetjies en wyfies, maar gesteriliseerde katte van beide geslagte is meer vatbaar, terwyl mannetjieskatte veral ‘n risiko het van totale blokkasie (blaas en/of uretra). Dis onseker of die kastrasie selfs dit kan veroorsaak (onwaarskynlik), en of dit eerder is dat meeste katte gekastreer word en so die meeste gevalle is. Die spanning daarmee verbonde kan egter ‘n sneller wees. Katte met diabetes of reeds bekende nierprobleme is meer vatbaar vir infeksie van die blaas of uretra.

Daar is heelwat oorsake van FLUTD:

  • Urienstene of kristalle wat in die urien vorm en die voering van die blaas irriteer
  • ‘n Prop (van kristalle en slym) wat vorm in ‘n mannetjieskat se uretra, wat die fisies blokkeer
  • Spasma van die spier in die wand van die uretra
  • Abnormale bou van die blaas en/of uretra
  • Spanning en gedragsprobleme
  • Kanker van die blaas of uretra
  • Siekte wat die senuwees wat die blaas beheer beïnvloed
  • Bakteriese of virus infeksies
  • In 60 – 70 % van gevalle kan mens nie ‘n oorsaak vind nie, en word dit idiopatiese FLUTD genoem (van die Grieks vir siekte sonder oorsprong)

Tekens van FLUTD sluit die volgende in, en ‘n kat kan een of meer daarvan wys:

  • Moeilik en seer om te piepie
  • Ongewoon baie keer piepie
  • Piepie net klein bietjies op ‘n slag
  • Piepie op ongewone of ongeleë plekke
  • Druk of beur tydens, terwyl of na piepie
  • Bloederige piepie
  • Skree of miaau tydens piepie
  • Gedragsverandering en/of aggressie
  • Onvermoë om te piepie

Omdat die oorsaak baie keer nie bekend is nie, is dit belangrik om al die moontlike oorsake (soos bo gelys) uit te skakel, voor mens kan sê dis idiopaties, omdat die regte behandeling belangrik is. Dus is dit belangrik om vir jou veearts presies te kan sê hoe en wanneer die simptome opduik. Die veearts doen dan ‘n volledige ondersoek, onder andere om die blaas en ander organe te voel. ‘n Urinemonster word geneem om te sien of die urien gekonsentreer is of nie (of die niere werk), wat die pH is (Katte se urien is natuurlik effens suur, en is afhanklik van die kos wat hulle eet. Hoe meer proteïen, hoe suurder), of daar kristalle in die urien is, proteïen, bloedselle en bakterieë.

Die aanvanklike behandeling begin gewoonlik na aanleiding van die resultate, maar as dit nie opklaar nie, is verdere ondersoek nodig. Dit kan x-strale of sonar insluit, om die blaas, uretra, ureter en niere te ondersoek om die presiese oorsaak te vind. Soms is dit nodig om ‘n monster van die blaaswand te neem en in te stuur vir ondersoek.

Bakteriese infeksies word met antibiotika behandel. Kristalle of stene in die blaas of uretra behels dat die kat soms ‘n spesiale dieet om die kristalle te probeer oplos. In ander gevalle is ‘n operasie nodig om kristalle te verwyder wat nie opgelos kon word nie. ‘n Obstruksie van die uretra is ‘n noodgeval, dit is baie seer, en kan die dier se lewe kos. As die urien nie kan uitvloei nie, kan dit terugstoot tot in die niere en hulle onherstelbaar beskadig. So ‘n obstruksie word in ‘n noodoperasie verwyder onder algemene narkose.

As daar nie ‘n spesifieke oorsaak is nie (soos in meeste gevalle), is dit belangrik om die simptome te verlig en na langtermyn veranderinge te kyk. Dit sluit in

  • Vermindering van spanning (wat die ontsteking kan laat ontvlam). Faktore sluit in verandering in kos, die omgewing (‘n nuwe kat, te veel katte, kind, kêrel ens.) en selfs die weer. In ‘n vorige blog (kliek hier), het ek gepraat oor hoe belangrik die toilet vir ‘n kat is wat nie kan uitgaan nie (waar, watse sand, hoe die bak lyk ens).
  • Meer water – mens kan ‘n kat nie dwing om meer water te drink nie, maar meer water beteken die urien word verdun, wat blaasontsteking help opklaar. Mens kan dit aanhelp deur water op baie plekke in en om die huis te sit waar die kat dit kan drink (ook verskillende materiale soos glase, porseleinbakkies, ‘n kraan of fonteintjie, ens.) en nat kos te gee i.p.v. droë kos.
  • Gewigsverlies indien nodig, en meer oefening. Weereens, ‘n kat sal nie noodwendig gaan stap soos ‘n hond nie, maar ‘n ryker omgewing sal help vir meer beweging (iewers om op te klim, speelgoed, ens.).
  • Mediese terapie om pyn te verlig, spierspasmas te ontspan, aanvullings ens. afhanklik van die omstandighede.

Die uitkoms van die siekte hang baie af van die oorsaak, en soms is een nie bekend nie. Deur egter dinge uit te skakel wat vermybaar is, kan mens help om dit te beheer of op te los.

6 Comments Add yours

  1. Baie interessante artikel,Karin!

    Liked by 1 person

  2. Soek prok of vereniging om haar aan te kla nie sê:

    My kat was n gesonde Maine Coon wat nooit in 10 jaar ooit siek was. Die 8ste het hy af en toe gemaai en hy kon net kolletjie pieps. Ons het hom na ons veearts gevat wat sonar gevat het en gese sy blaaspyp is geblok. Ons is weg gestuur mag nie by hom bly nie. Na n uur het sy laat weet sy pypie is oop en blaas leeg. Nogtans wou sy nie die kat vir ons terug gee nie want sy het gese hy moet drup kry. Dit was n kat wat vreeslik gestres het. Sy het ons verbied om te kom kyk want ons het nie verstaan hoekom kat drup moet kry as alles uit is nie. Sylhetgeenbloedtoetse geneem nie. Die volgende oggend het sy gebel om te se hy is dood. Hom Onderstepoort toe gevat en kon niks fout vind nie. Afleiding wat gegee is is dat hy dood is aan stres. Sy het hom ook n enema gegee hoekom weet ons nie want daar was niks fout met sy maag nie. Ek wil weet of ek haar by enige veearts vereniging kan aangee of prokureur

    Liked by 1 person

    1. karen sê:

      Sjoe, dis vreeslik, en moes baie traumaties gewees het! In ons kliniek laat ons katte so gou as moontlik huistoe gaan, veral die wat gestres is. Die drip is nodig om die elektroliet wanbalans in die bloed te korrigeer (meestal word egter bloedtoetse gedoen voor dit), en om die blaas te spoel (veral belangrik as blaasontsteking vermoed word). Maar dit kon seker anders gehanteer word as dit kat so gestres is. Mens kan verskillende medisyne as enema toedien, ook kalmeermiddels. Het sy gesê waarvoor dit was?

      Mens kan ‘n veearts aangee by die Suid-Afrikaanse Veeartseny Raad: https://www.savc.org.za/public-info/complaints
      Lees dit noukeurig deur. Ek hoop dit help!

      Liked by 1 person

    2. karen sê:

      My hoop is natuurlik ook instinktief dat die veearts haar bes gedoen het. Dis ‘n vreeslike ding as ‘n dier onder ons sorg doodgaan. So behoort dit te wees. En die eerste opsie moet altyd gesprek tussen die betrokke partye wees.

      Liked by 2 people

  3. seegogga sê:

    Dankie vir hoerdie interessante blog. My gogter se kat het onlangs skielik begon om op d bed te piepie. Ek sal dit vir haar aanstuur.

    Liked by 1 person

  4. seegogga sê:

    Lank in hok wees

    Like

Lewer kommentaar