Nagdiens met dowes op Oujaarsaand

Op Oujaarsaand het ek nagdiens gehad. Dis ook die dag van ons 13de huweliksherdenking. Gelukkig begin diens laat, so ons kon darem nog vier. In elk geval, klokslag om twaalfuur, terwyl die blikskottelse vuurwerke buite afgaan, stap ‘n ouerige man, sy vrou en hulle hond in die kliniek. Hulle het voor die tyd gebel om te sê hulle kom, hulle hond het erge diarree. Die hond was glad nie gepla deur die vuurwerke nie, en het doodluiters daar ingestap. Toe ek daarop kommentaar lewer, vertel die man dat hy doof is. Soms is dit ‘n seëning, soms ‘n uitdaging 😉 .

Later was nog ‘n kat met diarree aangemeld en toe niks meer nie. Egter vier uur die oggend lui die deurklokkie en daar staan ‘n vrou voor die deur met ‘n katmandjie. Toe ek die deur oopmaak, sê die vrou “Mee kaa i too!” en wys na die mandjie. Ek het eers geen idee wat sy sê toe, toe tref dit my, sy is ook doof! En sy sê haar kat is dood! O gits, ek vat haar spreekkamer toe, haal die boks met sneesdoekies uit en probeer my bes om my verstaanbaar te maak en uit te vind wat sy wil hê ek moet doen. Die kat het inderdaad baie dood gelyk in die mandjie, maar ek was so opgevang daarin om met haar te praat, dat ek eers nie na die kat gekyk het nie. Gewoonlik kan mens albei gelyk doen, as gehoor nie ‘n probleem is nie! Na so drie, vier minute roep sy weer uit, “die kaa lee!”. En wraggies, toe ek afkyk, sien ek die kat asemhaal. Haar hart het nog swak geklop en toe ek temperatuur meet was sy yskoud. Ek gryp die kat, hol na die behandelingssaal toe waar ons suurstof, drips en als het, sit haar op ‘n verwarmingsmat, kry ‘n drip in (met relatief min bewerasies gesiene hoe erg die situasie was), kry glukose in haar mond en toe kyk ek weer op om te sien hoe dit met die vrou gaan. Sy was in ‘n slegte toestand en die kat ook 😦 .

Toe sy net daar aangekom het, kon ek darem nog haar naam kry, en het gou in die sisteem gekyk wat die kat se probleem is. Haar kat het diabetes gehad. Toe ons in die saal staan by die kat wat ek probeer red, vertel sy my dat die kat al ‘n week lank nie regtig eet nie, maar dat sy elke dag twee keer ‘n dag die kat insulien gespuit het. Met diabetes produseer die liggaam nie genoeg insulien om glukose in die selle te vervoer nie, en daarom moet dit gespuit word. Maar vir dit op te werk, moet daar glukose beskikbaar wees, dus die kat moet eet. Anders gaan die kat in ‘n koma en kan doodgaan. Die vrou was duidelik oorlaai met die behandeling van die kat, en het nie ons instruksies verstaan nie. Ongelukkig kon ek nie die kat red nie. Sy het haar mond oop en toe gemaak, soos ‘n kat wat laaste asemteue vat, en toe sit ek haar liewer uit. Die vrou was regtig verlig dat die kat nie meer ly nie, en ook dat sy nie verder met die probleem moet sit nie.

Dit was nogal ‘n uitdaging om met die vrou te praat dat sy my verstaan, maar sy was baie dankbaar. Dit was ‘n moeilike begin vir die jaar vir haar, en ek hoop dit gaan intussen beter.

 

(Dankie Perdeby, dat jy my lui dinges subtiel geskop het om weer iets te skryf 😉 )

7 Comments Add yours

  1. Ag foeitog, dis baie hartseer. Hoop dat sy weer eendag ‘n goeie huis vir ‘n katjie sal gee!

    Liked by 1 person

    1. karen sê:

      Ja, dit was regtig tragies. Ek hoop ook so!

      Liked by 2 people

  2. seegogga sê:

    Rk dink dis die swaar deel van veearts wees. Daardie keuses tussen lewe en dood

    Liked by 1 person

    1. karen sê:

      Jy sê dit, Seegogga! Noudie aand net voor ons skofte ruil, bel my kollega die eienaar van ‘n 16-jarige Westie wat daar was oor hy epileptiese aanvalle gehad het. Hy was ook blind en het diabetes gehad. Hy kon huistoe gaan, maar toe sê die eienaar sommer op die telefoon ons moet hom eerder uitsit. Lekker kon ek toe kies tussendeur my konsultasies wanneer ek die hond doodmaak. Alleen, sonder sy eienaar 😔. Dit was nogal erg.

      Liked by 1 person

  3. Ek is bly jy het iets geskryf, Karen😄.Ek geniet altyd jou dierestories. Ai dis maar hartseer by tye, né!

    Liked by 1 person

  4. karen sê:

    Ja nee kyk, moet geen jongmens wat veearts wil word onder die illusie wees dat dit net ‘n lekker werk is nie. Die dood is eng verweef daarmee.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s