Werk met ‘n uitsig

Ek gaan volgende jaar April vir vier weke werk by ‘n veearts in Interlaken. Hulle werk meestal met beeste, skape en bokke en doen net hier en daar basiese behandelings vir katte en honde. Ek kort meer ervaring om met vee te werk, en dag toe ek sal die ervaring graag wil opdoen waar die beeste – ten minste in die somer – ‘n mooi uitsig het 🙂 .

Die veearts en sy vennote behandeling vee van plase in die pragtige gebied rondom Interlaken, ook Lauterbrunnen, Grindelwald en rondom die meer van Thun. Alles prentjiemooi gebiede wat mens andersins net as toeris ken.

Ek het my laas week gaan voorstel in die praktyk en kon toe sommer dadelik saam die een veearts ry om 14 dwergbokke in te spuit teen wurms. Dis nie net ons wat ‘n diens gelewer het nie, ons het ook iets geleer. Die eienaar het Christina raad gegee hoe om ontslae te raak van rotte in ‘n huis. Vergeet gif en lokvalle, hulle is te slim daarvoor! Mens moet seker maak daar is nie ‘n druppel water beskikbaar nie, rotte moet gereeld water drink. Geen kondensasie van ‘n pyp of teen ‘n muur nie, niks wat lek nie. As dit kurkdroog is, trek hulle weg. Interessant, né?

Later het ek gehelp toe ‘n kat se tand getrek moes word en ‘n abses op ‘n ander kat gespoel moes word. Die hoogtepunt was later die dag toe ek saam die baas na ‘n plaas gery het waar hy ‘n bees kunsmatig moes insemineer. Nie die proses nie, maar die uitsig! Dis ‘n klein plasie met omtrent 8 beeste in die stal. Die strooi waarop hulle slaap word gemeng met herfsblare wat dit ‘n mooi natuurlike effek gegee het. En as jy voor die huis staan is dit die uitsig – majestueuse berge wat bo mens uittoring! Dit was so mooi. Daar is ongelukkig nie veel sneeu in die berge op die oomblik nie, maar die bietjie sneeu het die werfhond gebruik om in te rol en sneeu engele maak. Ek sien baie uit na April!

IMG_1266IMG_1265

Lewer kommentaar